Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS – SONDAG 05 JULIE 2009

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Oudio is ook beskikbaar via die web: www.sarl.org.za. Klik op ARMI en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio via Echolink, koppel met ZS0JPL-R.
Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.
U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 28,325, 14,235, 10,130, 7,066 en 3,695 MHz ESB asook op 52,750, 438,825 en 1 297 MHz FM in die Pretoria-gebied. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)

In die nuus vandag:

WEES GEWAARSKU TEEN GRYS INVOERE

VOORAFWERKSWINKEL OP SATERDAG 11 JULIE VIR BACARLANSERING

KLUBAFFILIASIE BY DIE SARL

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.

WEES GEWAARSKU TEEN GRYS INVOERE

Radioamateurs word gewaarsku om tweekeer te dink voordat hulle toerusting, wat ’n grys invoer is, teen ’n winskoopprys koop, aangesien die ‘winskoop’ in ’n ‘duurkoop’ kan verander. Grys invoere is items wat die offisiële agente of verspreiders systap en word dikwels teen baie laer pryse verkoop as wat die offisiële agente of verspreiders daarvoor vra, maar sulke items is nie onderworpe aan die vervaardigers se waarborge nie.
Die Suid-Afrikaanse wet is baie duidelik oor grys invoere. Maatskappye wat grys ingevoerde produkte verkoop moet met die verkoop daarvan verklaar dat die betrokke goedere grys invoere is en dat dit nie aan waarborge onderhewig is nie. Die meeste amateurradiotoerusting soos Yaesu, ICOM and Kenwood is slegs deur waarborge gedek wanneer dit van die aangestelde verspreiders en hulle agente gekoop word. Verspreiders en agente is nie verplig om diens en onderhoud aan grys ingevoerde produkte te verskaf nie.
Daar is produkte wat węreldwyd gewaarborg word wat beteken dat indien u ’n persoonlike notaboek in die VSA koop en u terug is by u huis in Johannesburg, die waarborg gehonoreer sal word en dat die notaboek herstel sal word. In die meeste gevalle geld dit nie vir grys ingevoerde goedere nie, dink dus tweekeer voordat u grys ingevoerde produkte koop, maar indien u na goeie oorweging nogtans besluit om ’n grys ingevoerde sendontvanger te koop, verstaan goed dat dit op u eie risiko is en dat die gemagtigde verspreider nie die item met diens en onderhoud sal ondersteun nie.

VOORAFWERKSWINKEL OP SATERDAG 11 JULIE VIR BACARLANSERING

Om voor te berei vir die BACAR-lansering op Saterdag 25 Julie sal ’n voorafwerkswinkel op Saterdag 11 Julie om 09:00 by die Nasionale Amateurradiosentrum gehou word. Gedurende die werkswinkel sal die volle loonvrag getoets word en die finale voorbereidings sal vir die lansering getref word. ’n Aantal spanne moet saamgestel word wat sal omsien na die lansering, weer- en windvoorspellings, volging en opsporing, rapportering vanaf die lanseerterrein en vanaf die NARS en kartering van die vlugroete soos dit vorder.
’n Detailplan sal gefinaliseer en op die webwerf geplaas word ten einde radioamateurs in ander dele van die land in staat te stel om die BACAR-vlug te volg, die verskeie bakens te monitor en kontakte deur die transponeerder te maak.
Raak betrokke by hierdie opwindende gebeurtenis in die amateurradiokalender en woon volgende Saterdag se werkswinkel by.

KLUBAFFILIASIE BY DIE SARL

Die SARL het onlangs ’n nuwe affiliasieskema aangekondig wat ontwikkel is uit besprekings by die AJV en tydens ’n onlangse Presidentsnet. Die skema bied finansiële voordele vir klubs en uiteindelik groter deelname aan jaarliks algemene vergaderings. Die volle besonderhede is aan klubs meegedeel in die SARL-brief van 5 Junie. Dit is ook die afgelope week op die tuisblad van die SARL se webwerf geplaas. Maak van die geleentheid gebruik om die besonderhede te bestudeer en dit tydens u volgende klubvergadering te bespreek.

PUBLIEKE INLIGTINGSBEAMPTENETWERK KOM VAN DIE GROND AF

Die eerste vergadering, via telekonferensie, van die SARL se publieke inligtingsbeamptenetwerk sal op Maandag 3 Augustus om 20:00 gehou word. Die agenda en dokumentasie sal ’n week voor die tyd beskikbaar wees. Indien u klub nognie ’n inligtingsbeampte aangestel het nie, doen dit asb. sonder versuim. Besonderhede aangaande hierdie netwerk en ’n aansoekvorm kan gevind word by www.sarl.org.za, klik op News en kies Club Talk.

RADIO ZS IN U POSBUS EN OP DIE WEB

Die Mei-Junie-uitgawe van Radio ZS behoort teen hierdie tyd in u posbus te wees. In hierdie uitgawe kan u lees oor Afrika se eerste AMA-aktiwiteit, hoe om ’n 2 m/70 cm diplekser met ’n verskil te bou, meer leer aangaande die Maidenheadlokaliseringstelsel en lees oor die eerste radioamateur in die ruimte en hoe om data d.m.v. radio te stuur. Daar is ook die gereelde kolomme oor amateurradio in die ruimte, museums en padvinders en radio.
Indien u nie ’n lid van die SARL is nie en ’n proefkopie van Radio ZS wil ontvang, stuur ’n e-pos aan armi@sarl.org.za met ‘Trial copy Radio ZS’ in die onderwerpspasie.

RAE-KLASSE

Die Sandton ARK begin hulle volgende RAE-klasse op 21 Julie 2009 om 19:00 by the NARS.
As u belangstel, of iemand ken wat belangstel om klasse by te woon, kontak gerus vir Mark Zank, ZS6YES, op sel 083 367 8943 of per e-pos na zs6yes@gmail.com vir verdere inligting.

HF-VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak die komende week baie laag gaan wees. Die geomagnetiese veld sal oor die algemeen kalm wees. Die voorspelde effektiewe sonvlektelling sal gedurende die komende week minder as 5 wees. Die streek in die son se Suidelike Halfrond, wat probeer het om 'n sonvlek te vorm, is besig om weg te kwyn. Daar word verwag dat die gebrek aan sigbare sonvlekke nog vir 'n rukkie sal voortduur.
Met winter hier is die hoeveelheid energie van die son wat die Suidelike ionsofeer bereik besig om steeds verder af te neem. Dit het 'n merkbare effek op die HF-toestande. 15, 17 en 20 m is nog steeds die beste keuses vir DX. Gedurende die middae gaan die toestande na die Ooste en die Weste goed wees. Gedurende laatmiddag en die aand gaan toestande na die Noorde goed wees. Vroegoggend is daar 'n moontlike kans om kontakte met Australië en Nieu-Zeeland te maak. Gedurende die aand is daar 'n moontlikheid van 40 m-kontakte met Brasilië. Noordoostelike, Noordwestelike, Suidoostelike en Suidwestelike paaie gaan uitdagend wees. Langpadvoortplanting na die VSA is ook gedurende die middag moontlik.
10 MHz lyk laatmiddag en na sononder bruikbaar vir die Morsekode- en digitale entoesiaste.
Plaaslike toestande gaan gedurende die dag op 40 m goed wees. 80 m behoort gedurende vroegoggend en laatmiddag goeie resultate oor die korter afstande, byvoorbeeld tussen ZS5 en ZS6, te lewer. 30 m sal tot die middel van die dag goeie resultate tussen ZS6 en ZS1 lewer.
Saans is 80 m die beste keuse. Gelukkig is die geraasvlakke a.g.v. statiese ontladings besig om af te neem wat kontakte oor die langer afstande meer aangenaam maak.
Opwindende nuus is dat die Noord-Kaliforniese DX-stigting se internasionale bakennetwerk by die Hermanus Magnetiese Observatorium, ZS1HMO, gemonitor word. 'n Grafiese aanduiding van die ontvange seinsterktes kan by http://spaceweather.hmo.ac.za besigtig word. Kies "Ionospheric Data" en dan "HF Propagation Conditions" om te sien watter bakens onlangs, en nie so onlangs nie, gehoor is.
Onthou dat hierdie net 'n voorspelling is en dat HF u aangenaam kan verras. Skakel u stel aan, luister en roep ook CQ om seker te maak dat u deel van die opwinding is.
Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

11 Julie – Voorafwerkswinkel om 09:00 by die NARS oor BACAR-lansering;
13 Julie - Sluitingsdatum vir instuur van logstate vir digitale kompetisie;
16 Julie - Sluitingsdatum vir instuur van logstate vir Durban ARK se midwinternaelloop;
25 Julie – BACAR-vlug;
03 Augustus – Telekonferensie deur beamptes van die Publieke Inligtingsnetwerk om 20:00.

SARL-Nuus nooi klubs en individue om nuusberigte wat vir radioamateurs en kortgolfluisteraars van belang is, in te stuur. Plaas nuusberigte, indien moontlik, in beide Afrikaans en Engels op www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan. Moet asb. nie nuusberigte aan die Administratiewe Beampte of direk aan een van die bulletinsamestellers stuur nie – die kanse is goed dat u berig nie die regte samesteller sal bereik nie en dus nie in 'n bulletin ingesluit word nie.
Die SARL nooi u ook om te luister na die program Amateur Radio Mirror International, wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 860 kHz. Daar is ook 'n podcastuitsending waarna geluister kan word. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op ARMI en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 21:00 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.
U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga wat deur George, ZS6NE, opgestel is.

Dankie dat u geluister het. 73.

/EX.


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003